Bou ‘n goeie verhouding met jou kind se onderwyser
Ons kinders spandeer ‘n groot gedeelte van hul dag op die skoolbanke. Vir 12 (of meer) jare word hul voorberei om vir hulleself te sorg en om ‘n positiewe bydrae te maak tot die samelewing. Dit is die ouers se groot verantwoordelikheid om kinders by die huis op te voed en by die skool het die onderwysers die uiters belangrike en groot voorreg om ons kinders te lei en te leer. Dit is dus belangrik dat ouers en onderwysers na die beste van hul vermoë as ‘n span saamwerk en mekaar heelhartig ondersteun. Sodoende word ‘n omgewing geskep waarin kinders optimaal kan ontwikkel.
Die oorgang na die junior primêre fase is vir sommige kinders moeiliker as vir ander. Deur ‘n goeie verhouding met jou kind se onderwyser te hê, maak jy die oorgang baie makliker. Stel jouself voor aan die betrokke onderwyser en hou die kommunikasiekanale oop sonder om die onderwyser se drumpel deur te trap. Gebruik ook die metode van kommunikasie (epos, WhatsApp of telefoonoproep) wat deur die onderwyser verkies word.
In 'n artikel wat in die LIG-tydskrif verskyn het (Maart 2018), gee Heidi Malan, Doeltreffende Ouerleiding (DOL)-fasiliteerder in Pretoria, en Nantie van Aswegen, ‘n ouerskap-konsultant wat ook vir 15 jaar ‘n laerskoolonderwyser was, die volgende raad:
Moets
Kinders moet fisies en emosioneel veilig voel. Wanneer daar groot veranderinge plaasvind - soos die dood van 'n naasbestaande, egskeiding of die geboorte van 'n nuwe baba - is dit belangrik dat die onderwyser daarvan kennis dra sodat hy/sy kan help om die kind deur hierdie moeilike situasies te begelei. Deur die onderwyser ingelig te hou word misverstande voorkom en sal jou kind voel dat hy/sy verstaan word.
Kinders leer deur die voorbeeld wat vir hulle gestel word. Wees dus vir jou kind 'n goeie voorbeeld deur die reëls te gehoorsaam. Parkeer- en veiligheidsreëls is ingestel om die kinders te beskerm en veilig te hou. Hierdie reëls geld vir almal - ook vir jou, ook wanneer jy haastig is!
Maak seker dat jou kind elke dag al die benodigdhede het wat deur die skool gevra word byvoorbeeld ekstra klere, skryfbehoeftes, die gesinsfoto wat vir die klas gewys moet word. Deur dit te doen, voorkom jy lang trane en dat jou kind in die verleentheid gestel word.
Ons almal is baie besig, maar probeer om betrokke te wees by skoolaktiwiteite en help sover jy kan by skoolfunksies. Kinders leer so om diensbaar te wees sonder om iets terug te verwag.
Maak seker dat jou kind se huiswerk en take betyds gedoen is, maar moet dit nie vir hulle doen nie. Hulle moet leer om self die navorsing, mondelinge en die take te doen. Dit mag miskien nie perfek wees nie, maar dit sal jou kind se eie werk wees en hom leer om sy eie werk met trots te doen.
Goeie maniere begin by die huis. Onderwysers sit met klasse van 20 - 40 kinders en ouers kan nie verwag dat al die onderwyser se aandag op hul kind gerig moet wees nie. Leer jou kind by die huis om al die eerste keer te luister as jy gepraat het, om sy/haar beurt af te wag, om nie antwoorde uit te skree nie en om nie ander mense in die rede te val nie.
Kinders moet van kleins af by die huis respek, selfdissipline en konflikhantering geleer word.
Moenies
Belangrike probleme moet nie met die onderwyser bespreek word wanneer jy jou kind by die skool aflaai of oplaai nie. Maak ‘n behoorlike afspraak.
Moenie laat opdaag vir skool, afsprake of skoolgeleenthede nie. Die program moet onderbreek word om die deur vir laatkommers oop te maak.
Moenie lelike opmerkings oor jou kind se onderwyser maak in die kind se teenwoordigheid nie. Jou kind hou dalk van die onderwyser en hy/sy mag nou dalk voel dat daar tussen julle kant gekies moet word.
Moenie die onderwyser se foute en tekortkominge met ander bespreek nie.
Moenie jou kind elke keer uit die verknorsing “red” nie. Soos wat kinders ouer word, moet hulle leer om die gevolge van hul dade te dra. Daardie briefies wat verduidelik dat jou kind te moeg was of dat jul te besig was of te laat by die huis gekom het om die huiswerk/taak te voltooi, word dalk met goeie bedoelings gestuur, maar dit weerhou jou kind van die geleentheid om te leer en te groei uit die foute wat hy/sy gemaak het as gevolg van besluite wat hy/sy geneem het.
Wanneer iets in jou kind se klas of by die skool gebeur het wat deur jou kind as “onregverdig” beleef is, moenie oorreageer nie. Soos alle mense maak onderwysers ook foute. Met hul baie verpligtinge en oorvol klasse is dit maklik om ‘n probleem mis te kyk. Vind eers uit wat die feite is voordat jy jou kind se “storie” as waar aanvaar. Kry ook die onderwyser se kant van die saak en help jou kind om dit wat gebeur het uit die onderwyser se oogpunt te sien.
Wat maak ek as ek ‘n probleem met ‘n onderwyser het? Meeste onderwysers wil vir elke kind net hul allerbeste gee, maar soms duik daar situasies op waar dit nodig is om in te gryp. Moenie dadelik na die hoof toe hardloop nie. Sy tafel is waarskynlik toegegooi onder ouers se klagtes wat maklik deur die onderwyser en ouer self opgelos kon word. Maak ‘n afspraak met die betrokke onderwyser. Wees positief, beleefd en professioneel. Bly kalm. Moenie aanvallend wees en persoonlik raak nie. Hou by die feite en vind saam ‘n oplossing vir die probleem.
As jy agterkom dat daar niks aan die situasie gedoen is nie en dat dit net erger raak, maak ‘n afspraak met die relevante departementshoof. As daar nogsteeds geen verbetering is nie, kan jy dit met die hoof gaan bespreek. Hou aan met navraag doen totdat jy bevredigende antwoorde geky het of totdat jy reken die situasie in die beste belang van jou kind opgelos is. Onthou: jy ken jou kind die beste.